woordbrokkies
Wat is Sonde?
Dis ’n vraag wat dadelik aandag trek, want elke mens is gedurig in ’n persoonlike stryd met sonde gewikkel. Maar wat is dit? Probeer dit definieer dan val jy gou vas. Probeer voorbeelde gee, dan hou dit nooit op nie. Haal jy die Ou Testament aan soek jy moeilikheid want Moses het meer as 600 wette gegee. Die apostels noem heelwat sondes in hulle sendbriewe aan die gemeentes, maar dis net ’n klompie voorbeelde.
Tog moet daar ’n betroubare manier wees om sonde te herken en te verstaan, sodat mens dit kan hanteer. Anders is jy ’n oop teiken sonder die vermoë om tussen goed en kwaad te kan onderskei!
Die antwoord is binne-in jou. Jy hoef nie buite jouself te soek na wat sonde is nie. Elke mens weet van nature wanneer iets sonde is want elkeen het ’n verstand en ’n gewete (Rom 2:14-15).
As jy in Jesus glo weet jy selfs nog veel beter wat reg en verkeerd is, want jy is ’n nuwe, wedergebore en geestelike mens. God se Gees woon in jou (Rom 8:9) en sy woord lewe in jou (Heb 4:12). Jy het ’n nuwe hart en ’n nuwe gees (Eség 36:26). Jy verstaan God se reddingsplan en wat Hy van jou verwag (Joh 14:26, 16:13, 1Joh 2:20). In elke situasie waarin jy jou mag bevind, weet jy wat reg of verkeerd sal wees om te doen (1Kor 2:15).
Die profete het dit so gestel: God sal sy wet in ons binneste gee en in ons harte skryf, sodat almal die verskil tussen reg en verkeerd sal ken en God se wil sal doen (Jer 31:31-34, Eség 36:27). Hulle het natuurlik van God se nuwe Israel gepraat, naamlik die gemeentes van die Nuwe Testament. Dis ek en jy.
Hoekom struikel Christene dan so maklik oor sonde en verskil so dikwels van mekaar oor wat reg en verkeerd is? So ’n vraag sou onredelik wees, want daar is Christene wat pas tot geloof gekom het en ander wat reeds jare lank geestelik groei. Elkeen betree die geloofspad op sy eie tyd en groei teen sy eie tempo. Maar almal kan tot volle kennis van Jesus ontwikkel. Sonde kan jou nie terughou nie, want Hy het al jou sondes weggeneem. As jy in Hom bly is jy uit God gebore en sondig nie. (1Joh 3).