woordbrokkies
Leef in jou prysklas!
Jou prysklas in die wêreld word bepaal deur jou status en inkomste. Om benede jou klas te lewe is ondenkbaar; om ’n leefstyl bo dit te probeer handhaaf is onverskillig.
Meeste Christene wat hul geloof ernstig opneem leef maar beskeie, en sukkel selfs om finansieel te oorleef. Ons is in ’n nederige aardse prysklas. Dis vir goeie redes, want God wil nie dat sy kinders deur die wêreld verstik word en geestelik onvrugbaar raak nie (Deut 7:25, Matt 13:22, Rom 12:16, Jak 4:1-4,5:1-6, 1Joh 2:15-17).
Daar is nog ander redes ook, byvoorbeeld dat ons moet leer om God te vertrou vir wat ons nodig het (Luk 12:22-34, 1Tim 6:17), dat die wêreld ons haat en as bywoners behandel omdat ons volgelinge van Jesus is (Joh 15:18-19, Heb 11:13, 1Pet 2:11) en dat ons moet leer om ander mense te ondersteun in plaas daarvan om net vir onsself te lewe (Jak 2:14-16, 1Joh 3:16-18). As mens oor al die redes nadink sien jy dat ons eintlik dankbaar moet wees oor so ’n beskeie leefstyl (1Pet 1:3-9).
Ons is in die wêreld, maar in terme van ons eindbestemming – God se koninkryk – is ons nie van die wêreld nie (Joh 17:14-16). Al is ons nog in die vlees in ’n aardse samelewing, leef ons reeds volgens die beginsels en waardes van God se koninkryk (Tit 2:11-14). Dis die geestelike kant van ons lewe. Ons geestelike leefstyl val in ’n heeltemal ander pryskategorie – ’n hoë, luukse klas.
Die profete het in die Ou Testament baie daaroor gepraat en daarna uitgesien (byv. Jes 2, 11, 43, 60, 66, Jer 30-33, Eseg 37, Joël 3, Amos 9, Obadja, Mig 4, Sag 8, 10).
Die gemeentes van die Nuwe Testament is die toonbeeld van hierdie ryk leefstyl: Hulle is Jesus se bruid en sy vrou (2Kor 11:2, Ef 5:23-33; Openb 19:7, 21:9-27), sy geestelike ‘huis’ (1Pet 2:5-10) en erfgename van die hemelse rykdom (Rom 9:23-24, Ef 1:18-23). Dit sluit wel nog nie alle aardse rykdom en voorspoed in nie, maar reeds die geestelike rykdom van God se woord, ons wedergeboorte, inwoning deur die Gees, geloof, sondevergifnis, blydskap, hoop, geloofsgemeenskap met ander, sy liefde vir ons ....
Jou reg op hierdie prysklas kom deur jou hoë inkomste (God se oneindige genade) en jou hoë status (jy’s wedergebore). Jy kan hierdie super-leefstyl handhaaf deur:
- gereeld met God te praat (Ef 6:18, 1Thess 5:17,25, Jak 1:5),
- vas te staan in die nuwe gemoed (Ef 6:14, Filip 3:12-4:1, Heb 10:23),
- ’n tempel van die Gees te wees (1Kor 3:16,19),
- ’n aktiewe lid van die Liggaam te wees (Hand 2:42, Heb 10:24-25),
- te groei in jou geloof en kennis van Jesus (Ef 4:11-16),
- sy gawes te beoefen (1Kor 12),
- te hoop op sy terugkoms (Tit 2:13, 1Pet 1:13),
- sy Beeld deur jou leefstyl te vertoon (2Tim 4:2).