WOORDSTUDIE
INLEIDING
Om die hele inhoud van die Bybel volledig te behandel is natuurlik ’n onbegonne taak, maar darem ook nie nodig nie. Daar is baie aspekte van die Woord waarop nie spesifiek ingegaan hoef te word nie omdat dit nie bepalend is vir kernwaarheid en geestelike groei nie. Hier in WOORDSTUDIE word dus eerstens uitgebrei op LEWENSWOORD se GELOOFSVERKLARING, met ander belangrike onderwerpe wat mettertyd ook bygevoeg en behandel kan word.
Uiteenlopende sienings het al in die wêreld, en ook in ons eie land, oor elke onderwerp ontwikkel. Dit word erken en gerespekteer, maar die benadering van LEWENSWOORD is om net dit wat die Bybel sê reguit, eerlik en onpartydig te stel en dan die vanselfsprekende of logiese afleidings daaruit te maak. Ons is nie gebonde aan enige denominasie of organisasie wie se oortuigings of leerstellings in ag geneem moet word nie.
Soos met die GELOOFSVERKLARING is hierdie Woordstudies ‘n saak van menslike vertolking (uitleg) van God se Woord onder leiding van die Heilige Gees. Dit is onderworpe aan moontlike hersiening namate kennis vermeerder en insig verdiep.
As u van die studies afgelaai het (.pdf formaat), kontroleer asb. van tyd tot tyd dat u steeds die nuutste weergawe daarvan in u besit het. Doen dit deur eenvoudig weer die 'LAAI PDF AF' knoppie te druk en die uitgawedatums te vergelyk.