WOORDSTUDIE
ENGELE
WAT IS ENGELE
Die Bybel openbaar engele as geesteswesens wat in die hemelse en aardse omgewings aktief is. Hulle is in diens van God as boodskappers, beskermers ensovoorts (Ps 103:20, Openb 8).
TWEE HOOFGROEPE ENGELE
Deur die Satan (duiwel, slang van ouds) se afval en boosheid is hy en 'n aantal engele wat hom gevolg het, uit die hemel verban en op die aarde gewerp. Die Bybel onderskei dan ook twee hoofgroepe van engele, naamlik dié wat aan God gehoorsaam gebly het, teenoor Satan en dié wat hom gevolg het in opstand teen God (Openb 12:7-9, 2Pet 2:4).
WAT DOEN ENGELE
Engele se aktiwiteite hou verband met God se reddingsplan vir die mens (Heb 1:14). Dit behels in die eerste plek die oordra van boodskappe aan, beskerming van, en selfs optrede teen mense waar nodig (Gén 19:1-22, 2Sam 24:16-17, Luk 1:11-20, 26-38, 2:9-13, Hand 12:7-10). Satan en sy bose geeste is daarop uit om Jahweh se reddingsplan te belemmer en gelowiges van Hom weg te rokkel (Luk 8:12, Joh 8:44, Ef 6:12, 1Pet 5:8).
Engele werk in onsienlike hoedanigheid in mense se lewens (Gén 18:2, 19:1). Aansprake op sigbare verskynings van engele aan mense vandag kan nie noodwendig as feitelik aanvaar word nie - in elk geval nie asof dit van aanvullende waarde vir enigiemand moet wees nie. Die Bybel gee al die inligting wat nodig is vir geloof in Jesus terwyl die Heilige Gees dit vir ons uitlê en ons verstand verlig om dit te verstaan (2Pet 1:3, 1Joh 2:20, Joh 16:13, 2Tim 3:15-17).
KONTAK MET ENGLE
Pogings om kontak met engele te hê of enige meerdere kennis van engele te bekom met die oog op geestelike of materiële voordeel, is nutteloos en gevaarlik. 'n Mens kan daardeur, sonder om dit te besef, aan bose geeste blootgestel word wat hulle sal voordoen as goeie engele.
(2Kor 11:14-15, Gal 1:8-9).
(2Kor 11:14-15, Gal 1:8-9).
BOSE ENGELE IS ONS VYANDIGGESIND
Satan en sy engele het 'n intense haat vir die mens en benut elke geleentheid om ons te vernietig of kwaad aan te doen. Daar is geen plek vir vreedsame verhoudings met hulle nie en ons moet gedurig waak teen moontlike aanslae van versoekings en misleiding. (Ef 4:27, 6:10-20).
BESKERMING TEEN BOSE ENGELE
Die Skrif verbied gemeenskap met Satan en sy duiwels (1Kor 10:20-22, Ef 5:11). Hulle kan nogtans versoekings in ons pad lê en aanslae op mense loods deur middel van mense en dinge (Job, 1Kor 7:5, 1Tim 6:7-11). Daar moet egter op die volgende gelet word:
'n Gelowige is 'n tempel van die Heilige Gees en word deurentyd gereinig van alle sonde (1Kor 3:16, 6:19, Ef 5:25-27, Heb 10:22, 1Joh 1:7).
- Elkeen wat aan Jesus behoort staan onder sy beskerming en hoef niks van die Satan en sy engele te vrees nie (Jak 4:7).
- Volgelinge van Jesus kan nie duiwelbesete of onder beheer van Satan of 'n bose gees wees nie (Joh 8:36, 13:10-11, 27, 15:3, Rom 6:22, 8:2, 2Kor 6:15-16, Kol 1:13, 1Tim 1:5, 2Tim 2:22, 1Pet 1:22, 1Joh 2:13, 3:1-24, 4:4, 5:18).
- Deelgenootskap aan die liggaam van Jesus (gemeentes) bied beskerming teen enige vorm van duiwelbesetting. Gemeentes is veronderstel om niks te doen te hê met duiwelbesetenheid of enige vorm van inwoning of beheer deur bose geeste nie, want (i) daar is geen voorbeeld in die Bybel van gelowiges wat deur bose geeste bewoon of beset is nie, (ii) nêrens in die Bybel word gelowiges of gemeentes gewaarsku teen die moontlikheid nie, (iii) daar is geen gevalle waar duiwels of bose geeste bestraf of uit gelowiges gedryf word nie, en (iv) daar word nie instruksies aan gelowiges of gemeentes gegee om duiwels uit te dryf of selfs te bestraf nie.
'n Gelowige is 'n tempel van die Heilige Gees en word deurentyd gereinig van alle sonde (1Kor 3:16, 6:19, Ef 5:25-27, Heb 10:22, 1Joh 1:7).
DUIWELUITDRYWING
Jesus het met sy dood en opstanding die Bose oorwin, en hulle is bestem vir finale vernietiging (Jes 53:12, Kol 2:15, Ef 4:8, Rom 16:20, 2Pet 2:4, Jud 1:6). Hulle is egter nog in beheer van die wêreld, en dié wat hul buite Jesus bevind is blootgestel aan moontlike betrokkenheid by, aantasting deur en selfs besetting deur bose geeste (1Joh 5:19, 1Pet 5:8, 1Kor 10:20, 1Tim 4:1). Daarom kan bekering uit die okkulte (Satanisme) en uit sekere soorte afgodery met duiweluitdrywing gepaard gaan (Hand 8:7, 19:12). Sulke gebeure sal egter eerder buite die normale program van 'n gemeente se aktiwiteite plaasvind as byvoorbeeld tydens 'n erediens (Hand 8:5-7).
Sien die studie: BEVRYDINGSBEDIENING vir meer inligting.
Sien die studie: BEVRYDINGSBEDIENING vir meer inligting.